‘n Lewe van diens: Oom Gert le Roux

Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers

As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.


*Gert (Johannes Rudolph) Le Roux (81), in Jan Kempdorp, Noord-Kaap
‘n Lewe van diens: Oom Gert le Roux


In elke gemeenskap is daar daardie stil helde – mense wat nie erkenning soek nie, maar wie se voetspore diep en betekenisvol getrap lê.

Oom Gert (Johannes Rudolph) le Roux is beslis een van daardie mense.

Op 81 is Oom Gert steeds ‘n getroue en betrokke vrywilliger wat met oorgawe in die Noord-Kaap-streek dien.

Sedert 2019 stap hy getrou die pad saam met Solidariteit Helpende Hand en is hy deel van die Vaalharts-tak waar hy ‘n waardevolle rol speel.

By sy tuiste in Jan Kempdorp is hy ‘n bekende en geliefde gesig – iemand op wie daar staatgemaak kan word.

Een van die tye wat vir oom Gert besonder baie uitstaan, is die Covid-tydperk.

“Dit is ‘n tyd wat ek baie goed onthou, nie net oor die uitdagings nie, maar oor die verskil wat gemaak kon word. Ek was aktief betrokke by die aanry van kospakkies oor groot dele van die Noord-Kaap, dikwels wyd en ver,” sê hy.

Hy het ook gehelp met die verspreiding van hulp, fondse en skenkings aan mense in nood, ‘n tyd waarin sy diensbaarheid werklik sigbaar geword het.

Vir oom Gert lê ‘n hele paar projekte na aan die hart.

Hy is veral betrokke by die HelpJag-projek en die verspreiding van kos. Hy is ook aktief betrokke by die Seniors in Aksie-projek, omdat hy sy kennis wil verbreed en omdat hy self al ‘n senior is.

En dan lê die Groentjies en Gryses-projek hom na aan die hart, omdat hy wil help om brûe tussen generasies te bou. Hierdie betrokkenheid weerspieël sy hart vir mense – jonk en oud – en sy begeerte om betekenisvolle verhoudings in die gemeenskap te bevorder.

Vir oom Gert gaan dit nie net oor ondersteuning nie, maar oor die bou van ‘n toekoms vir die volgende generasie. Daarom is hy ook nou betrokke by die Vaalharts Gemeenskapstudiefonds wat studente die geleentheid te gee om te gaan studeer.

As mense dalk twyfel of hulle moet betrokke raak as vrywilliger, sal oom Gert eenvoudig sê: “Kyk na die verskil wat jy kan maak. Kyk na die mense wat gehelp word – en onthou dat elkeen van ons ‘n plek het. Jy kan ook jou blokkie volmaak en deel wees van iets wat werklik saak maak. Solidariteit Helpende Hand bring verandering en groei in gemeenskappe.”

Besoek https://helpendehand.co.za/streke/ om as vrywilliger in jou omgewing aan te sluit.


//EINDE

FOTOBYSKRIF: Gert le Roux, oudste vrywilliger en taklid van Vaalharts, saam met Kerike du Plessis, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Noord-Kaap, Sarie Jacobs, lid van die Vaalharts-tak, en Somé Ferreira, Helpende Hand se maatskaplike werker in die Noord-Kaap.

Uitgereik deur:

Somé Ferreira

Maatskaplike werker: Noord-Kaap

E-pos: [email protected]

Sel: 082 944 6097

Leave a Comment